Tuesday, May 13, 2008

Wonderlike brief van vriende

Jacques en Estelle Roos van Welkom het met my vertrek twee maande gelede 'n brief saamgegee wat ek iewers gedurende die reis moes lees. Ek het dit vandag eers oopgemaak. Dis so mooi dat ek dit, met hul toestemming, met julle wil deel.


10 Maart 2008
Lodewyk

Vandag het jou Afrikatoer so baie deur ons kop gemaal dat ek eenvoudig net die pen moes opneem ... ek visualiseer jou op jou volgelaaide motorfiets, kalm en rustig maar tog so gefokus. Ek sien hoe klein swart dogtertjies hulle oë nie van hierdie wit omie kan afhou nie want hy lyk so anders en hy ry so 'n wonderlike ding !!

Die Hunters Route kom ook aanmekaar in my gedagtes op, daardie eerste sandpogings, uitskopvoete, blousak-bagasie asook die verrassingselement van die onverwagte jagters, en natuurlik die aand onder die groot bome met die lekker rum ... Nou wonder ek watter verrassings jy al meegemaak het, hoe jou stert voel en of jy nie dalkies so bietjie verlang na ons wat met die WIT TROK agterna kom nie ...

Ek wonder ook waar Krap se munte al orals lê, hoe hard jou beskermengel aan die werk is en hoe getrou jou Kawasaki is, en of die Suiderkruis nog in die aand vir jou glinster ... het jy al na die fynheid van die Europese beskawing verlang en na Andre Rieu op jou Ipod geluister?

Jacques, ek en die kinders was, is en sal altyd lief wees vir avontuur, die natuur en reis, en daarom wil ek vandag vir jou kom dankie se vir die aandeel wat jy het in ons reiservarings, asook die verbreding van ons visie ... dat jy ons leer om wyer te sien, om dieper te kyk ... om oop te breek ... en my wens is dat Afrika vir jou sal oopbreek soos 'n ryp granaat en dat jy die pitjies een vir een sal korrel, proe en eet, al vlek dit die vingers...

Wanneer dit goed gaan, drink 'n bier op Jacques, 'n whiskey op my en 'n rum op jouself. Wanneer jy moeiliker tye beleef ... onthou: Die waarde van die koelte is in die warm son rondom hom! ... en sluk dan twee van elk af!!

Ons volg jou met groot belangstelling en ondersteuning (ek is nog steeds bereid om die kritieke onderdele in te vlieg!)

Geniet die res van jou trip, pas jouself op, kom vertel en wys ons alles en skryf 'n boek!

Groetnis
Estelle

2 comments:

Anonymous said...

Is te doof om 'n suksesvolle stukkie kommentaar ge-publish te kry! Dalk werk hierdie een - en dan kom daar baie daarna. Ons verslind jou dagboek en ek veral die foto's. Alet

Anonymous said...

(Mos gese as ek dit eers uitgepluis kry ... ) Het trane in oe oor Estelle en Jaques se brief. Ek onderstreep hulle woorde - met grootste waardering vir die geweldige impak wat jy op so baie van ons se lewens (ge)maak (het). Stellenbosse herfsgroete