Thursday, June 19, 2008

Letlandse ontbyt

Gisteraand het die gasvrou my in haar Russies probeer verduidelik dat ontbyt vanoggend om 7 sou wees. (Ons is 'n uur voor Suid-Afrika).

Sewe-uur is ek by die voordeur, gereed vir eet.

Verkeerd. Sy kom uit met twee handdoeke en druk dit in my hande. Ek beduie van eet en sy skud haar kop. Njet!

Sy neem my na 'n afskorting en beduie ek moet my klere uittrek en handdoek ombind. Ek kon nie glo dat dit is hoe mens ontbyt in Letland eet nie!

Toe sy om die hoek stap, trek ek vinnig uit en sit die handdoek om. Ook net betyds. Sy kom haal my en lei my verby die ontbyttafel, sauna toe!

So begin my dag toe alleen in 'n sauna. Dit was eintlik lekker. Dit het net lank gevat om aan die sweet te kom want na Khartoem se hitte bly alles vir my koel.

Dit is vir my die lekkerte van 'n reis. Soveel dinge gebeur op jou pad wat jy nie verwag nie. Soos 'n sauna voor ontbyt.

Ek is nou borrelend van energie vir die ry, heel moontlik rigting Riga toe.

PS Wie in Naboom het 'n sauna wat ek mag gebruik?

No comments: