Friday, July 18, 2008

Wat was die doel van Naboom2Germany?

Waarskuwing: As jy nie lus is om nou iets diepers te lees nie, moenie verder lees nie.

Goeie more!

Voor die toer het ek aan baie redes gedink hoekom ek so 'n toer wou doen. Daardie redes is vandag nog geldig. Sedert die laaste paar weke het baie gedagtes in my kop begin spook. Ek glo iets anders gaan nog uit die toer voortspruit.

My liefde vir Suid-Afrika en vir Afrika en my geloof dwing my om op dié kruistog te gaan.

Dit is tyd dat ons as wit Suid-Afrikaners meer positief begin word. Dit is die boodskap wat ek wil begin uitdra.

Afrika was goed vir my. In Afrika het ek meer vriendelikheid, gasvryheid en nie-rassigheid ervaar as wat ek ooit kon dink. Die mens, vergeet van sy regering, is goed. Die uitsondering is dit wat die woord beteken:

U I T S O N D E R I N G.

Hoekom moet dit in Suid-Afrika anders wees?

Ons het 'n reuse misdaadprobleem. Ek weet nie wat die oplossing is nie. Ek as Christen weet egter wat deel van die probleem, oorsaak, kan wees.

Dit is mos so dat wat ek en jy dink, praat en doen, dit kom na ons toe terug. Is ons harte swart van ongeloof, pessimisme en wanhoop, hoekom sal iets anders na ons toe terugkom?

As ek stoksielalleen deur Afrika sou gaan ry het met die verwagting dat ek êrens beroof sou word, oorval sou word, glo ek dat dit sou gebeur het.

My verwagting was anders. Ek het elke dag se ry aan die Here gegee en hom blindelings vertrou. Nie dat niks met my sal gebeur nie, maar eerder dat ek alles sou kon hanteer wat op my pad sou kom. (Hoe "boring" sou die reis nie gewees het as daar ook nie swaar gewees het nie!)

The Power of Positive Thinking.

Bind ons nie die Krag van God met ons negatiewe opstaan, negatiewe praat en negatiewe verwagtings nie? Ek weet, as jy wat hier lees nie 'n Christen is nie, respekteer ek jou siening en gaan dit wat ek skryf, nie vir jou sin en saak maak nie. Maar as jy 'n Christen is, dan vra ek jou: Hoe kan ons in die Woord van God glo en met ons gedagtes en dade dit verloën asof alles onherroeplik verlore, verby is?

Natuurlik kan ons oor misdaad praat, oor die agteruitgang van stede en dorpe en hospitale en wat ook al, ons kan ons ontevredenheid uitdruk, maar, as God bestaan, hoe kan ons namens Hom besluit alles is verlore?

Ek hou nie daarvan as iemand, Bybel onder die arm, heeltyd loop en preek nie, jammer. Ek wil dit ook nie met jou doen nie. My ondervindinge van Naboom2Germany laat my egter dit uitskeeu: Daar is hoop! Dinge kan verander! Die mens is in wese goed!

Moet net nie God se werke ongedaan maak met ongeloof, wanhoop, boedel oorgee nie. Hy is nie 'n inbreker nie, en as 'n land deur sy on-geloof God as tot-geen-wonderwerk-in-staat verklaar, dan gaan ons alles verloor.

Glo.
Soek iets positief.
Word weer bly.
Verwerp enige negatiewe gedagte.
Vertrou God volkome, en nie jou eie insigte, persepsies en bure se gejammer nie.

Ek sal eerder op dié manier misdaad beveg as om pad te gee van hierdie wonderlike kontinent.

(En sou ek in hierdie land vermoor word, dan was my lewe tot daar ten minste met hoop, vrede en vreugde gevul gewees)

No comments: