Wednesday, July 9, 2008

En die reen het oornag soos 'n dief gekom ...

More!

Die koue van gister het my soos 'n baba laat slaap. Toe ek netnou wakker word, sien ek die straatjie voor my kamer is blinknat. Nog 'n heerlike nat dag op die fiets. Wat 'n voorreg. Nee, dis nie ironies bedoel nie, dis 'n voorreg om die toer lekker hard af te sluit.

Vandag gaan die 20 000ste besoeker op die webblad wees. Wie gaan dit wees? Laat weet gerus as dit jy was.

Ek wil vanoggend ou koeie uit die sloot grawe.

Ek is met my aankoms in Suid-Afrika aangehou.

Nie deur die polisie of doeane nie maar deur die een of ander ongelooflike stupid SARS wetgewing.

Daar is by Internasionale Aankoms in Kaapstad 'n Bureau de Change van ABSA. Ek staan toe in die ry met my paspoort en laaste paar Euro's om weer Rand te kry na 4 maande weg.

Die dame vat my paspoort en die Euro's, tik op haar rekenaar en vra of ek 'n ABSA klient (deelteken) is. Ek is nie, ek is by FNB. Sy gee toe my Euro's en paspoort terug en se sy kan nie dit vir my ruil nie, ek moet dit by my tak in Naboomspruit gaan terugruil.

Hoor ek reg? Na 18 lande waar ek geld net so kon ingee en die nuwe land se geld kry, kan ek in my eie land nie Rand kry nie?

Ek stoom toe in die reen (en daaroor was ek ook g..vol dat mens nie onder dak na Binnelands toe kan loop nie) na die Bureau de Change by Binnelands. Dis ook 'n ABSA ene.

Daar dieselfde storie. Sou ek 'n ABSA klient gewees het, dan sou hulle vir my kon ruil, nou moet ek dit by FNB gaan doen.

Toe vat ek vlam.

Ek roep die bestuurder nader en vra sy naam. Hy gee dit.

Hy bevestig ek moet by FNB die geld gaan omruil.

Waar is 'n FNB-tak?

Nie op die lughawe nie. Ek sal 'n taxi soontoe moet neem.

Met geld wat ek waar kry? Na vier maande op toer het ek g e e n Rand by my nie.

En so gaan dit aan.

En nou kom die hamer. Die goeie bestuurder vra of ek nie my water en ligterekening van die afgelope drie maande by my het nie. Ek wys vir hom weer met my vingers dat ek VIER maande reeds weg was uit Suid-Afrika. V I E R. Ek het dus nie gaan toer en vir Lize gevra om vir my rekenings agter my aan te pos nie.

Uit radeloosheid pluk ek toe die Carnet de Passage, uitgereik deur die AA, van die KLR uit want daarop staan ook my naam en adres, maar die dokument is nie jonger as drie maande oud nie want dit is reeds in Februarie uitgereik.

Die bestuurder se gesig helder op. Nou het hy 'n dokument waarmee hy kan werk.

Met die hulp van die KLR se doeanedokument kon ek toe my paar Euro's in Rand omruil! LAGWEKKEND!! (Baie dankie aan die KLR wat my veilig deur woestyn en water gedra het en toe nog vir my Rand ook nog gegee het ...)

Het ek dus nie die Carnet gehad nie, hoe sou ek geld kon omruil? Hoe sou ek 'n taxi kon betaal?

BELAGLIK!!!

Dus, SARS, KOM BY!!

En verbreek sommer ook ou Suid-Afrika se monopolie wat ABSA nog steeds op Kaapstad Internasionale Lughawe het.

Wat 'n welkom was dit nie.

Ek verwelkom enige kommentaar hierop want ek wil aan mnr. Trevor Manuel 'n beleefde briefie skryf.

No comments: