Thursday, July 10, 2008

Die Pitout sussies

Vanoggend in die bitterkoue Vrystaat het die KLR met die eerste druk van die aansitter gevat. More na 20 000 km gaan die fiets sy welverdiende ruskans kry. Vandag kuier ek nou eers in Potchefstroom by my pa.

Gister en vandag se ry was heerlik, ritte deur “memory lane”. So 40 km suid van Edenburg het ek van die N 1 afgedraai en met 'n grondpaadjie tot op die ou teerpad gery en toe Edenburg toe. Ek het op Edenburg my onderwysloopbaan begin. Dit was vir my as jong onderwyser 'n groot voorreg om onder Meester Kruger my voete te kon vind.

Vandag het ek deur Bothaville gery. Daar het ek as onderwyser klaargemaak. Ek het onwillekeurig aan die Pitout-sussies gedink.

Tana was die oudste van die twee sussies. Sy was 'n matriekleerling in die Duitse klas toe ek op Bothaville begin het. Sy was 'n mooie mens met ligblou oë en ligblonde hare. Sy was so skugter soos 'n bokkie in die bos.

Een dag het sy na my toe gekom en vir my 'n pienk en 'n ligblou kaartjie gegee. Op elkeen was 'n mooi Bybelversie geskryf en met 'n gepersde blommetjie afgerond. Die een versie was “As God vir my is …” en die ander een was “Ek is tot alles in staat …”

Ek het vandag nog die twee kaartjies, kosbare herinnerings aan 'n dierbare mens. Ek wonder wat van Tana geword het, en of sy nog in Suid-Afrika leef?

Tana se jonger sussie was Alta, 'n swartkoppie met donker oë. Sy wou in st. 6 ook Duits neem, maar dit was nie so heeltemaak haar sterkpunt nie. Eendag in die klas toe ek en sy weer lekker aan die baklei was, sê ek vir haar dat sy eerder maar in die middag by my hardloopgroep moes kom aansluit, miskien sou dit daar beter gaan as met die Duits.

Daardie middag was Alta by die oefening, vir die eerste keer. Alta was 'n natuurlike atleet. Sy het vir die eerste keer aan atletiek kom deelneem. Sy was ligvoetig, grasieus soos 'n rooibokkie.

Binne twee jaar was Alta die top langafstandatleet onder die meisies en het sy provinsiale kleure in landloop gekry.

Ek is elke jaar November met my groepie langafstandatlete Ficksburg toe waar ons as afsluiting van die jaar se hardloop aan die bergwedloop oor 23 km deelgeneem het. Na die hardloop het die jongklomp gekuier en geniet. Dit was wonderlike jare.

Alta het in die begin van haar st. 9 jaar siek geword. Kanker. Die einde van daardie jaar het ek Alta gaan groet voor ek Duitsland toe is. Sy was swak en bleek. Haar swart hare en oë was 'n skrille kontras met die wit laken oor haar. Sy het meestal oor Ficksburg se Kersiewedloop gepraat en die pret wat ons daar gehad het. Ek het nie baie gepraat nie. Die knop in my keel was te groot.

Vandag toe ek by Bothaville uitry, het ek skielik weer aan Tana en Alta gedink. Ek was lus om gou by Alta te stop. Die begraafplaas lê net so links van die pad.

28 Desember 1987, kort na ek haar gaan groet het, is sy toe dood. 17 jaar oud.

Dit het my Naboom2Germany toer geneem om my weer vir 'n rukkie by Alta te laat sit. Die eerste keer sedert ons totsiens sê daardie laaste dag.

Niks was te laat nie, net baie dinge te vroeg.





1 comment:

Anonymous said...

Dankie, Lodie. Tana