Wednesday, July 2, 2008

Die KLR in Afrika


Kawasaki KLR 650

Ek het aan die begin van my beplanning van Naboom2Germany op die KLR besluit as gevolg van vier oorwegings:

  1. Die lae gewig van die fiets;
  2. Eenvoud en omdat die model reeds 21 jaar oud is;
  3. Groot brandstoftenk (23 liter) en relatief goeie verbruik teen toerspoed;
  4. Lae prys in vergelyking met die ander 650’s.

Met die beplanning het daar toe nog ‘n vyfde rede bygekom. Egipte het ‘n 200 % deposito, bereken op die huidige waarde van die fiets, vereis voordat mens die fiets die land kon inneem. Reken maar self uit wat ek sou betaal het, sou ek ‘n duur motorfiets van R 110 000.00 gehad het.

Aankoop van my KLR

Ek het die KLR op 1 Maart 2007 van Centurion Lifestyle gekoop. Die fiets was nuut, en die prys R 42 000.

Oefenritte

In die jaar voor Naboom2Germany het ek 15 000 km gery onder alle omstandighede: Teer, sand, grond, sinkplaat, grasvlaktes sonder paaie.

Die KLR is deur al die ritte sonder enige probleme.

Opgradering van die KLR

Ek het op die opgradering van die KLR besluit omdat ek die hele toer alleen sou ry sonder sonder enige bystand van enige aard.

Ek het Ray Muller van Cytech, ‘n veteraan van talle Trans-Afrika-ekspedisies, om hulp genader.

Ray het die volgende gedoen:

  1. Handbeskermers vervang;
  2. Enjin beskermstawe aangebring;
  3. Plastiese beskermplaat onder enjin vervang;
  4. Toeter vervang;
  5. Groter voet aan die systaander aangebring;
  6. Hoofstaander aangebring;
  7. Hoofligbeskermer aangebring;
  8. Hoër windskerm;
  9. Dikker vere in voorvurke, beter skokbreker agter;
  10. Hepco Becker tasse;
  11. Dikker binnebande;
  12. Michelin Anakee voor- en agterband (Op 14 800 km opgesit);
  13. Binneband vloeistof om teen pap bande te beskerm, elektronies gebalanseer;
  14. Swaardiens ketting, twee nuwe “sprockets” voor en agter;
  15. Bykomende petrolfilter ingebou.

Naboom2Germany

My toer het op 15 360.1 km begin.

My filosofie was van die begin af duidelik: Dit was nie ‘n sporttoer met so vinnig as moontlik ry nie. Ek het getoer. In Afrika was ek meestal teen 80 – 90 km/h op pad. In Europa, selfs op die snelweë, was ek meer as gelukkig teen 110 km/h.

Omdat ek alleen op pad was, het ek die KLR soos ‘n dame hanteer. Kry jy die boodskap? Die KLR kon baie vinniger ry as ek sou wou vinniger ry. Ek wou egter nie. Gelykmatig weggetrek (bande en ketting) en goed na die fiets kyk was die modus operandi.

My kommentaar op Ray se opgraderings:

  1. Handbeskermers – Dit was een van die beste verbeterings, veral na die valle. Op so ‘n toer gaan jy val. Sonder die metaalhandbeskermers sou die handhefbome (“levers”) seergekry het.

  1. Enjin beskermstawe – Hulle het die enjin en verkoeler beskerm. Na my val in die Noord-Keniaanse woestyn op die lawarots sou my reis op ‘n einde gewees het indien ek nie die beskermstawe gehad het nie.

  1. Metaal beskermplaat onder enjin – Die geluid van rotse en klippe wat onder teen die plaat vasgeslaan het, was genoeg bewys vir my dat ‘n plastiese plaat nie sou hou nie. ‘n Metaalplaat is ‘n moet vir enige trans-Afrikareis.

  1. Toeter – Ek het gefrons en Ray het gesê ek sou sien hoekom een wat harder toet, nodig was. In sommige lande ry jy met jou duim die hele tyd op die toeter en toet jy. Sonder dié geluid het voetgangers net eenvoudig oor die pad gestap. In Kaïro toet jy motors weg voor jou.

  1. Groter voet vir systaander – In die sand was dit waardevol.

  1. Hoofstaander – was soms nuttig, soms in die pad. Alleen, met al die gewig op die fiets, kon ek nie die fiets op die hoofstaander kry nie.

  1. Hoofligbeskermer – as ‘n klip die lig sou tref, was dit nag. Letterlik. Ek was bly die ekstra beskerming was daar. In die Nubiese woestyn het ek dikwels ‘n paar uur voor sonopkoms begin te ry.

  1. Hoër windskerm – in reën het dit die ry gemakliker gemaak. Was eenvoudig net geriefliker.

  1. Dikker vere in voorvurke, beter skokbreker – Noord-Kenia reken met skokbrekers af. As jy jou bagasie op ‘n voertuig kan laai en jy stop gereeld sodat die skokbreker kan afkoel, kan jy sekerlik met standaard skokbrekers deurkom. Die Long Way Down ouens het 5 skokbrekers daar geblaas. By Jungle Junction in Nairobi het Chris ‘n boks vol skokbrekers wat dit nie oorleef het nie. Na die tyd weet mens nooit wat jou standaard skokbreker daar sou gedoen het nie. Een laatmiddag in Noord-Kenia toe die alleenheid soos pes oor my kom lê het, was ek bly dat skokbrekers nie een van my bekommernisse was nie.

  1. Hepco Becker tasse – Volpunte! Al het bagasie het droog en stofvry daar binne gebly. As ek die fiets moes alleen laat, het ek meer gerus oor my dokumente of versteekte geld gevoel. Die valskade was minimaal en maklik herstelbaar. Nie die tasse of rame (brackets) het iets oorgekom nie, slegs die een slot het met ‘n val gebreek. In Soedan het die een “bracket” wel gebreek omdat die laaiers die fiets aan die tasse op die veerboot getel het. Ek het dit in Aswan, Egipte, in die hotel se voorportaal reggemaak en dit hou nog steeds.

  1. Dikker binnebande – dit verminder die moontlikheid van papwiele. Dis ‘n feit.

  1. Michelin Anakee voor- en agterband (Op 14 800 km opgesit) – Ek het Ray blind vertrou en sy ervaring het hom reg bewys. Dis bande gemaak vir die harde en lang pad. Ek weeg 103 kg, my bagasie was maklik nog 60 kg. Die fiets se gewig met olie en brandstof was ongeveer 190 kg. Ek het die voorband op 28 394 km vervang, na 13 584 km. Die agterband, na 18 256.3 km, loop nog steeds! Dink aan my woorde van netnou: Ek het die fiets nie deur die ratte gejaag nie.

  1. Binneband vloeistof teen papwiele – Ek was skepties. ‘n Mens het dikwels gelees dat die vloeistof die hantering van die fiets beïnvloed. Ray het weer daaraan geglo, dit ingesit, die bande elektronies gebalanseer, en ek kon niks merk nie!

  1. Swaardiens ketting, twee nuwe “sprockets” voor en agter – Na 18 816 km hou die ketting steeds. Ek het verbasend min die ketting moes stel. Die “sprockets” hou nog, sal 20 000 km haal.

  1. Petrolfilter – Dis net ‘n feit, alle petrol is nie skoon nie. Die bykomende filter was maklik bereikbaar en maklik vervangbaar. Ek het in Egipte ‘n ekstra filtertjie gekoop maar nooit nodig gekry nie.

Die KLR se afstandmeter staan nou op 33 616.4 km. Gister op die lughawe by Munchen toe ek die fiets vir die laaste keer in Europa afgeskakel het, het hy 18 256.3 km op die Naboom2Germany toer gedoen. Tot ek einde volgende week by die huis in Naboom gaan aankom, gaan die kilometers opskuif het na ten minste 20 000 km.

Dienste tydens Naboom2Germany

Nairobi – olie, oliefilter, remskoene (ek wou my bagasie ligter maak)

Tel Aviv – olie, oliefilter, petrolfilter

Altenstadt (Duitsland) – olie, voorband.

Ek het twee ekstra lugfilters saamgeneem wat ek na baie stowwerige gedeeltes ingesit het. Ek het ook die lugfilter olie saamgery.

Brandstofverbruik

Ek het nooit enige ekstra brandstof saamgery nie. Ek het nooit op reserwe oorgegaan nie (laaste 5 liter in die tenk) behalwe op 1 Junie toe ek in Langenselbold, Duitsand, aangekom het.

Ek kon gister nie op die lughawe volmaak nie omdat die fiets leeg moes wees. Oor die laaste 17 857,1 km van Naboom2Germany het die KLR 783,166 liter petrol verbruik teen ‘n gemiddeld van 22.8 km / liter.

Die verste afstand ooit tussen twee volmake was 408,2 km, en toe het ek 16.93 liter ingegooi.

Die laagste verbruik was in diep sand in die Nubiese woestyn (Soedan), nl. 14.88 km/l. Die beste verbruik ooit tydens die toer was 25.53 km/l in Letland.

Probleme met die KLR tydens die toer

Ek wonder of julle genoeg tyd gaan hê om deur al die probleme te lees. Waar gaan ek begin?

Pap wiele: Geen

Enige herstelwerk aan die fiets: Geen

Elektroniese probleme: In Italië een sekering (fuse) vervang. Dit was vir die hooflig en paneelbeligting.

Mense, dit was al. Na meer as 18 000 km loop die KLR nog steeds probleemloos!

My slotwoorde oor die KLR

Dis nie die toerfiets vir die spoedvraat of Blink Bennie nie. Dis ‘n toerfiets vir hom / haar wat eerder in betroubaarheid as spoed belangstel, wat by die verste uithoeke van die aarde wil gaan draai sonder ‘n begeleivoertuig.

Ek het so ‘n groot bewondering vir dié fiets gekry dat ek kan verstaan hoekom dit in sommige lande al kultstatus gekry het.

As ek more weer ‘n fiets sou moes koop vir ‘n toer deur verre, afgeleë dele, dan sou dit ‘n KLR wees.

Ek wil net noem dat ek geen borgskap van Kawasaki Suid-Afrika gekry het nie (ek het ook nie daarvoor gevra nie), ook nie van die handelaar waar ek die fiets gekoop het nie (ek het ook nie daarvoor gevra nie), ook nie van Ray Muller van Cytech nie (ek het ook nie daarvoor gevra nie).

Ek het bogenoemde geskryf sonder enige verpligting teenoor enige mens of maatskappy. Dit was my ervaringe, en waar ek lof uitspreek, doen ek dit omdat die produk of persoon dit verdien het.

No comments: