Sunday, July 13, 2008

Twee dae na Naboom2Germany


15 Maart: My vertrek op Naboom2Germany


Van my vriende en familie na my vertrek. In die middel sit Krap Venter, die wonderlikste motivering vir almal wat hom ken.


Goeie naand!

Twee dae is verby sedert ek terug is op Naboom. Ek het nou al 'n paar keer na my foto's gekyk. Ek kan nog nie steeds glo dat die toer verby is nie.

Ek het heerlike besoek die naweek al gehad, foto's gekry van die dag toe ek op 15 Maart vertrek het. Hier is twee sulke foto's wat ek nou vir die eerste keer te siene gekry het.

More word die KLR nie gepak nie. Dit gaan vreemd voel.

Na aanleiding van die stukkie oor Alta wat jonk dood is, het ek 'n e-pos van Marena (Steyn) gekry. Marena het Duits by my gehad en was 'n paar jaar ouer as Alta. Sy het Alta in die laaste jaar leer ken, en het die volgende oor haar geskryf:

"Nou ja so teen die einde van jou reis vat jy my toe ook op ‘n trip langs memory lane. Alta, ek het haar nie baie goed geken op skool nie, sy was my Boet se ouderdom en dus twee jaar jonger as ek. Ek het egter die voorreg gehad om haar te verpleeg toe sy siek was en sy was ‘n lieflike meisie. Ek dink nogal baie kere aan haar want in die kort tydjie wat ek haar leer ken het, het sy nogal ‘n blywende indruk op my gemaak. Een van daai mense wat jou “ryker” maak net omdat jy die voorreg gehad het om haar te leer ken, al was dit baie kort."

Marena het ook iets geskryf oor die laaste dag in die Duitse klas voor hulle begin het met die Matriekeksamen. Ek kon nie glo ek was as onderwyser so liberaal nie. Marena skryf:

"Was ook by die hoërskool. Op die stoepe gestap waar ek meer as 20 plus jaar laas gestap het, selfs na my ou Duitse klas gaan kyk en weer die “worsteling” met die vreemde taal onthou…. Kan nog ons laaste dag in jou klas onthou, ons is getreat met Schnaps en een of ander Duitse koek. Kan jy dit nog onthou? Nou iets soos 22 jaar later gaan ek eerlik wees en sê “Jig beide daai goed het maar bitterlik sleg gesmaak – maar ek kan darem sê ek het dit geproe! Lekker tye gewees!!"

Marena, ek het dit sekerlik gedoen omdat julle so 'n besonderse klas was. Jy was die kalm ene, Mirna het haar darem lekker gewip met kere, en Adri, ek en haar gevegte in die klas was legendaries.

Sal julle ouens ooit kan weet wat se verryking julle ook vir ons as onderwysers was?

Ek het vandag ook 'n e-pos van Hansie van Rooyen uit Edenburg gehad. Oor Hansie, en sy jonger boetjie Ernst, kan ek 'n klein boekie vol skryf. Ek glo nie daar was 'n leerling in my eerste onderwysjaar wat meer slae by my gekry het as Hansie nie. Dit was nog lank voor lyfstraf verbode was. 1981 is lank terug.

Ek sien daarna uit om nog die jaar een aand by Hansie naby Edenburg te gaan kuier.

As ek een aand die gevoel van Naboom2Germany baie mis, sal ek julle oor Hansie, Ernst en Edenburg vertel.

Groete!

Anita, jy het in Soedan so baie gemotiveer. Vandag is my woorde van troos so min toe ek van jou pa se dood gehoor het. Sterkte vir julle en jul kinders met jul groot verlies!

No comments: