Monday, March 10, 2008

Waarvoor ek moeg is.

 
They have cradled you in custom, they have primed you with their preaching,
They have soaked you in convention through and through;
They have put you in a showcase; you're a credit to their teaching -
But can't you hear the Wild? - it's calling you.
Let us probe the silent places, let us seek what luck betide us;
Let us journey to a lonely land I know.
There's a whisper on the night-wind, there's a star agleam to guide us,
And the Wild is calling, calling...let us go.
~ The Call of the Wild (Last Verse) - Robert Service ~
 
Ek het die laaste tyd in my 'n groterwordende irritasie begin opmerk.
 
 
Ek is moeg vir negatiwiteit en negatiewe mense.
 
Ek is moeg vir rassisme: Swart - wit en Wit - swart.
 
Ek is moeg vir my Afrikaanse oggendkoerant wat my vars bosveldoggendlug met die bloederige detail van elke grusame moord besmet. 
 
Ek is moeg vir die motivering van regstellende aksie, 14 jaar na ons hergeboorte.
 
Ek is moeg vir eenvlakkige denke: Swartes is almal sleg en Wittes is almal soos in die Reitzvideo. Strooi!
 
Ek is moeg vir mense wat nie verantwoordelikheid vir hul dade kan/wil  aanvaar nie en heeltyd verskonings aanbied.
 
 
Ek het met vier dae oor my reisdoelwit geformuleer.
 
 
Ek wil in Afrika opnuut gaan leer wat 'n positiewe uitkyk beteken, al gaan dit ook hoe sleg met my.
 
Ek wil in Afrika gaan uitleef dat 'n mens 'n mens is, dat velkleur geen rol speel nie.
 
Ek wil in Afrika geen Afrikaanse oggendkoerant sien nie, en as ek een sien, maak ek vuur daarmee.
 
Ek wil in Afrika gaan soek na suksesse en dit vier. Die mislukkings gaan NIE die suksesse oorheers nie.
 
Ek wil in Afrika dieper dink as net dit wat op die oppervlakte sigbaar is. Alles is nie net swart-wit nie, daar mag ook maar 'n grys gebied wees.
 
Ek gaan in Afrika my deel van die verantwoordelikheid dra vir die ellende waaraan ook ek 'n aandeel gehad het, maar tergelykertyd gaan ek vir die denker oor ons grense nog 'n dimensie oopmaak van wat 'n wit Afrikaner is.
 
Ek pak dus dié reis aan, alleen, as 'n sigbare teken aan Afrika en almal dat ek soveel geloof in my kontinent en mede-Afrikane het dat ek as alleenreisiger veilig aan die anderkant gaan uitkom.
 
Nkosi Sikelel' iAfrica!
 
 

No comments: