Tuesday, March 11, 2008

Drie dae vyftien uur ...

Ek was vandag vir oulaas in Pretoria, by Fransa van Contra Accounting. Fransa en haar besigheid sorg dat al ons finansiele (waar is die deelteken tog vandag!) state altyd betyds by SARS is. Tot nou toe was die FSA se boekhouding deel van my verantwoordelikheid.

Dit was. Dit is nie meer nie. Contra doen dit nou vir my. Ek gaan nou net motorfiets ry en geniet.

Dit voel soos 'n sewe-ton-blok wat van my skouers af is. Fransa, vir jou en jou span baie dankie en baie sterkte! Ek gaan ongelukkig nie aan julle dink terwyl ek weg is nie. As julle finansiele (deelteken) navrae sou hê, beloof ek om dit binne een jaar te beantwoord. Niks gouer nie.

Ek het dit reeds geskryf. Teenoor my kollegas Suzanne en Lize het ek 'n baie groot ereskuld. Hulle dra al my verantwoordelikheid gedurende die tyd dat ek weg is. Suzanne is op die oomblik in Duitsland, doen twee seminare vir ons daar. As jy hier sou lees Suzanne, hallo en baie dankie en geniet Duitsland!! Oor Lize kan ek min skryf. Geen miljoen woorde op hierdie aarde is genoeg om my dankbaarheid teenoor haar uit te druk vir wat sy hier in ons Naboom kantoor doen nie. Lize is 'n ster met 'n ewige glimlag.

Ek glo nie my twee Duitse kollegas Petra en Nicole gaan my baie mis nie. Ek is soms bietjie skerp teenoor hulle en hul nasie. Hulle is egter twee liewe dames. Hulle verdien die breek sonder my. Ook Nicole gaan hierdie tyd op 'n lang reis, die reis na moeder- en ouerskap. Sy gaan vir die eerste keer ma word. Ek wonder of ek nie vir haar baba 'n naam kan voorstel nie. Iets soos KLR, of Kawasaki. Dis tog baie mooier as Heinrich of Sophie.

Dus, danksy die sterkere geslag kan die mindere geslag (ek) in die Afrikabos verdwyn.

Keat, 'n boer hier uit die omgewing, het my vanoggend gebel. Hy gaan my Saterdagoggend langs die pad inwag en saam tot by die Botswanagrens met sy KLR ry. Dit gaan lekker wees! Miskien moet ek my padkos met hom langs die pad deel.

Ek het vandag by Greg van Jetline Print in Lynnwood, Pretoria, die plakkers gekry. Dit lyk regtig goed. Ek het klaar drie op my tasse geplak. Dankie Rina vir jou ontwerp! Greg, elke keer as ek 'n plakker vir iemand weggee, sal ek jou en Jetline in my gedagtes loof.

More aand kom Gerhard en Nettie de Villiers daar van ver suid van Johannesburg Naboomspruit toe om te kom groet. Nettie ken my kookkuns daarom brings sy vir ons die lekkerste kos saam.

Hoe kan mens vriende ooit genoeg dankie sê vir sulke vriendskap? Om oor die vyfhonderd kilometer net vir 'n aand se kuier te ry ...

Ek lig my blikkie Windhoel op al julle dierbare mense!


I am sorry that I don't have an English transaltion now. I am under a bit of pressure and don't have the time now. I am doing fine, and I look foward so much to Saturday!

Bald werde ich wieder auf englisch schreiben, habe heute abend sehr wenig Zeit. Mir geht es gut, alles ist in Ordnung, und bald bin ich unterwegs!

Groete!

No comments: