Sunday, December 2, 2007

Wanneer is die tyd reg om te reis?

Vanoggend gaan soek ek 'n Sondagkoerant in Okahandja.
 
By die Shell vulstasie by die ingang na die dorp staan 'n rooi motor met 'n NW-nommerplaat uit Suid-Afrika. In die motor het twee jongmense gesit en iets gedrink, water of koeldrank, dis nie belangrik nie.
 
Op pad terug na my fiets toe groet ek en hoor hulle is studente uit Potchefstroom wat in Tsumeb woon. Hulle is op pad huis toe.
 
Ons begin te gesels oor my fiets en toer en hulle studies. Tot my skande het ek my nie voorgestel nie en ook nie hulle name gevra nie.
 
Die jong dametjie het nou met Bedryfsielkunde klaargemaak. Haar reguit vraag het my bietjie onkant gevang.
 
Hoe weet mens wanneer is dit die regte tyd om op 'n lang reis te gaan?
 
Ek het nie dadelik 'n antwoord gehad nie en het haar die webbladadres voor op my fiets gewys. Sy het gesê sy sou vanaand die antwoord daar gaan lees.
 
Nou het ek al jul lesers se raad nodig.
 
Wanneer is dit die regte tyd om op 'n lang reis te gaan?
 
Twee aanhalings het my dadelik bygeval. Uit die Alchemist: Life is truly good to those who pursue their life destinies.
 
Die ander een:
 
"Travel is more than the seeing of sights; it is a change that goes on, deep and permanent, in the ideas of living." –- Miriam Beard
 
Onbekende PUK dame, jy het klaar met jou reis begin. Die verandering wat diep binne in jou begin het, is die teken daarvan. Daarom het jy die vraag gestel. Al hou jy nie van die Alchemist nie, volg jou lewenspad en lewensdrome wat mettertyd al hoe meer gaan word. Jy sal nog ver reis, letterlik en figuurlik.
 
"Twenty years from now you will be more disappointed by the things that you didn't do than by the ones you did do. So throw off the bowlines. Sail away from the safe harbor. Catch the trade winds in your sails. Explore. Dream. Discover." -- Mark Twain
 
Vandag is ek werklik so bitter diep dankbaar vir elke mens wie se voetspore my paadjie kruis. Dankie julle twee!
 
Explore. Dream. Discover.
 

1 comment:

Anonymous said...

Hallo, Lodie

Weet jy hoe ek uitsien na elke nuwe inskrywing?

Ek lees die jong Bedryfsielkundige se vraag. Dis waar wat jy skryf - die reis vir elkeen begin lankal voordat 'n mens dit besef. Die jong dame vra wanneer 'n mens weet wanneer die tyd reg is. Die tyd is reg wanneer die hunkering diep binne na die oppervlak beweeg - net soos 'n ontkiemende saadjie.

Iemand het 'n tyd gelede my vraag aan hom oor wanneer hy weer teruggaan na sy land (Israel) toe só beantwoord: "Ek dink nie ek kan weer teruggaan nie. As 'n mens eers weg is, is dit nie dieselfde persoon wat weer teruggaan nie." En dan ook: Wanneer is 'n mens gereed om op 'n lang reis te gaan? Wanneer die idee daaraan in jou kop daag.

Velig ry!

Emil