Monday, November 19, 2007

Nog meer engele

Ek moes vroeg vanoggend Duitse ambassade toe in Pretoria. Andre van Hi-Q hier in Naboom het my voor 8 al gehelp om die laaste 10 cm van die buiteband oor die velling (rim) te kry. Dit gaan volgende jaar sweet kos om dit alleen te doen onder 'n doringboom.
 
Dankie Andre!
 
Ek is glad nie 'n tegniese reus nie, daarom het die terugsit van die as en agterwiel my goed laat voel. As mens so iets op jou eie die eerste keer regkry, voel jy eenvoudig net beter toegerus vir volgende jaar se ry.
 
Vol bravade na my tegniese oorwinnings sit ek toe die "top box" ook terug op die fiets. Dit was werklik kinderspeletjies na die agterwiel.
 
Net daar slaan my nuwe bravade my vir 'n ses. So 35km van Naboom af, op die N-1, voel ek so terloops met my linkerhand of alles nog reg is agter my.
 
Daar was niks agter my wat kon reg wees nie want die "top box" was weg!
 
Dit was die vinnigste stop en omdraai op die N-1. Die hoë gras langs die pad en baie vragmotors het my dadelik laat besef dat die kanse skraal gaan wees om oor 'n 35km afstand die ding langs die pad in die gras te kry. My geld, krediet- en petrolkaart was daar in.
 
Nie eers 'n kilometer van waar ek omgedraai het nie het 'n Gautengbakkie van voor gekom. Die bestuurder het verwoed met sy ligte geflikker. Langs hom op die sitplek was my "top box".
 
Ek was te bly om die tweede wonderwerk binne een week te ervaar dat ek nie eers sy naam gevra het nie. Wat sy hulp nog meer besonders maak, hy het omgedraai om my agterna te sit toe hy sien wat gebeur het.
 
Onbekende mens uit Gauteng, mag jy op al jou paaie net voorspoed ervaar. Baie dankie!

No comments: