Ek het die naweek vir my die nuutste boek van Charley Boorman en Ewan McGregor gekoop. Hulle DVD van Long Way Round het vir my ure se kykgenot verskaf.
Hul tweede groot toer, van Skotland (John O'Groats) tot Kaapstad hierdie jaar het baie lesse te leer vir enige een wat so 'n groot toer beplan.
Ek trek nou by Egipte in hul boek. Waaroor kla die twee ryers die meeste? Hulle het nie tyd om te geniet nie. Wat 'n toer moes wees van ry, sien, stop, geniet, was op daardie stadium 'n gejaag (soms tot snags 11 uur) om op skedule te bly.
In die groep het die lang dae se ry dikwels vir woordewisselings gesorg. Juis dit het 'n mens nie op so 'n wonderlike rit nodig nie.
Wat is dus die lesse om te leer?
Laat vir jou die vryheid om te stop wanneer jy wil, waar jy wil en 'n rusdag in te bou as jou liggaam daarna vra. Wat 'n jammerte moet dit wees om verby 'n interessante straatmark te jaag net omdat jou toerrooster dit nie toelaat nie?
Die foto wat ek aanheg, is juis van so 'n lang dag deur die bos in Zimbabwe. Dit was lekker om deur herfs-mopanies te ry, by statte te stop, en in die skadu te kon sit sonder om skuldig oor 'n rooster te voel!
No comments:
Post a Comment