Tuesday, November 27, 2007

En daar gebeur dit toe ...

Dinsdag 27 November
 
Beginpunt: Kaapstad
Eindpunt: Springbok
Afstand: 590 km
 
Ek het vanoggend eers ongeveer twee ure later weggekom as wat ek gehoop het. Ek het vroegoggend eers vir my 'n behoorlike rybroek en stewels gekoop. Ek het lank daarmee gewag. Die idee van vel oor teer wat skuur en rol teen 100km/h het my nie langer laat wag nie.
 
En so bring die nuwe broek my tot my pynlikste oomblik van my motorfietsryery.
 
Die broek is gemaak vir die sitposisie op die fiets. As mens loop, lyk dit maar koddig.
 
Op die hitte van die dag stop ek op Vanrhynsdorp om petrol in te gooi. 'n Ou heer met sy vrou stop met hul deftige Mercedes om ook petrol in te gooi. Die fiets het sy belangstelling geprikkel en hy stap nader om dit van naderby te bekyk. Ewe selfvoldaan sit ek toe my valhelm op en klim op.
 
En my regterbeen kom met die nuwe broek nie oor die fiets nie.
 
Ek probeer 'n tweede keer. Geen sukses.
 
Ook nie die derde of vierde keer nie.
 
Nog 'n motor se insittendes begin die gekkespul dophou. Ek skop my tenk raak dat die swart merke sit. Ek skop my sitplek raak. Geen sukses.
 
Op die ou end moes ek die fiets langs 'n walletjie trek om my been oor te kry. Pynlik.
 
More het ek die keuse: Denim en klim maklik op, of weer die rybroek. (As julle 'n motorfietsryer knypend sien ry, is dit net ek wat wag dat 'n reling langs die pad moet kom sodat ek daarop kan klim om op die fiets te kom)
 
Die ry was lekker. Die Kaapse wind was moeilik. Dit was maklik om die Kaap agter te laat. Na Piketberg het ek rustiger in my gemoed begin voel. Die beskawing se baie motors was nie meer op die pad nie. Clanwilliam was soos altyd mooi. Die dam is vol en die berge blou.En na 5 en 'n half jaar het ek my rooi David Kramer velskoene gekry. Ek ry met die skoene vasgebind agter op die bagasie. Na Vanrhynsdorp was dit die Knersvlakte. Die alleenheid was in die begin moeilik. Bitterfontein,, toneel van die grootste diamantroof in SA se geskiedenis, Ek kon 'n stukkie droëwors koop omdat daar 'n sypaadjie voor die winkel was vir die opklim. Garies, dan die mooiste pad tussen granietkoppe deur na Kamieskroon tot in Springbok. Droomwêreld.
 
My belangrikste les: Ek haat dit om volgens 'n tydskedule te ry. Ek moet Donderdagaand in Windhoek wees. Dit het gemaak dat ek verby soveel mooi paadjies en interessante plekke moes verby ry. My groot ry gaan ek aan geen tydplan koppel nie. 'n Mens moet vry wees om te stop waar jy wil en vir so lank jy wil.
 
More is dit oor die grens Namibië toe.
 
Groete

No comments: