Wednesday, January 16, 2008

Visums

Ek het nou met my finale aanloop met die visums begin.
 
Botswana - geen visum
Zimbabwe - geen visum
Zambië - geen visum
Malawi - geen visum
Tanzanië - klink relatief probleemloos, kan binne 24 uur gereed wees.
Kenia - geen vooraf visum nodig nie.
Ethiopië - die swerkaters antwoord nie hul foon nie! Ek sal more weer probeer.
Soedan - die dame in die visumafdeling sê self hulle visum is moeilik. Ek kan nie daarvoor in SA aansoek doen nie. Dit sal moet oorstaan tot in Adis Abeba. Die wagtyd vir 'n "normale" visum is 'n paar weke. Ek het nie soveel tyd nie. Ek sal dus moet aansoek doen vir 'n "transit visum". Dit is net vir twee weke geldig. Nou kom die hamer. Soedan = woestyn = swaar = uitputtend. Ek het net twee weke om deur die Soedan te kom. Nou moet ek my tyd so beplan dat ek op 'n Maandag of Dinsdag op die Soedanese - Egiptiese grens kom want die boot waarmee mens Soedan moet verlaat vertrek slegs een keer per week, en dit is op 'n Woensdag. Kry mens teenspoed verpas mens die boot en verstryk ook die twee weke transit visum. Dit beteken dus elke dag in Soedan moet ek ry, geen ruskans nie, ek mag nie gaan staan sonder petrol en daar is nie tyd vir verdwaal nie. Volgens my huidige beplanning gaan ek dan die Maandag in Wadi Halfa aankom, Woensdag vertrek die boot ... Hoekom kry ek die idee die Soedan gaan hard wees?
Egipte - baie vriendelike dame, ek moet 2 Maart by hul ambassade wees, ek kry dan 'n visum geldig vir 30 dae binne drie maande, en dis gratis!! Dis wonderlik.
Libië - ek skryf Libië nou af. Ek kan verstaan hoekom hulle in die jaar 2007 slegs 35 000 toeriste gehad het. Hulle is onmoontlik. Ek sal nou 'n moontlikheid moet kry om per lug / boot / tonnel :-) my en my fiets om Libië te kry tot in Tunisië. Kom, waar is julle mense met die smokkelaarsvriende?
Tunisë - ek is mal oor die land na twee vorige besoeke daar. Visumaansoek behoort pynloos te wees, neem egter drie werksweke! (Wat is die verskil tussen weke en werksweke?) Ek het goeie moed daar.
Italië en res van Europa - het reeds my Schengenvisum.
 
Dis nog minder as twee maande!
 
Groete!

No comments: