Friday, January 18, 2008

Egipte aan die einde van die wêreld?

Sommige dinge maak nie sin nie.
 
Beurtkrag. Olieprys. Rassisme. Visums. Zimbabwe. Egipte.
 
Stel julle die volgende prentjie voor. Ek kom deur die Sahara in Egipte aan. Ek kan / mag nie deur Libië ry nie omdat ek as enkelreisiger geen visum gaan kry nie. Ek wil nie deur Israel ry nie. Ek wil noord per boot / skip/ "ferry" oor die Middelandse See na Griekeland toe gaan om van daar my pad Duitsland toe te vind. Dis ook glad nie so ver nie.
 
Gaan sit nou voor jou rekenaar en vind uit hoe kom mens van Egipte na Griekeland, of Italië, of Tunisië.
 
Dis 'n doodloopstraat.
 
Dit is makliker om van Naboomspruit in New York te kom as om een vuil motorfietsryer met sy fiets uit Egipte in Griekeland te kry.
 
Die situasie staan nou so dat ek in Egipte gaan aankom met geen idee hoe ek verder gaan kom nie. Ek sal in Alexandrië 'n reisagentskap gaan opsoek waar die lugreëling werk, hom / haar my fiets wys en dan probeer duidelik maak ek probeer oor die Middelandse See kom.
 
Ek wonder of 'n KLR kan swem.

3 comments:

gerhard said...

Hoekom wil jy nie deur Israel ry nie?

Lodie said...

Ek is al taamlik allergies vir burokrasie, in gewone taal visums en wat daarmee gepaard gaan. Ek het baie lank na die oos-opsie gekyk: Israel, Lebanon, Sirie, Turkye ens. Ek glo dit kan 'n wonderlike reis deur daardie lande wees. Sou ek egter van Egipte kan wegkom rigting Griekeland, het ek na Egipte geen visum meer nodig nie want ek het reeds 'n Schengenvisum. Sou ek my reis oor vier maande kon doen, sou die oos-roete 'n baie goeie alternatief gewees het.

Het jy miskien enige ervaring oor die roete deur Israel? Ek sal baie graag meer wil weet. Wie weet, miskien ...

gerhard said...

Nee, was nog nooit daar nie. Maar ek weet dat sekere Moslemlande jou nie maklik toelaat as jy 'n Israel - stempel in jou paspoort het nie.
In elk geval ek geniet jou blog, en voorspoed met die reelings en reis!