Saturday, May 23, 2009

1 graad 17 minute suid van die ewenaar

Na net minder as 5 000 km het ons in Nairobi aangekom, 1 graad en 17
minute suid van die ewenaar. As alles volgens plan verloop, steek ons
die ewenaar Maandag oor.

Volgende week is dit die berugte Noord-Kenia se klippe, hitte,
eensaamheid, en die "shiftas", die "roaming bandits".

Afrika is altyd vir verrassings goed. Na my toer van verlede jaar het
ek baie dinge dieselfde ervaar en baie ook verskillend, so verskillend.

Ek is 'n alleentoerder. Dit was die grootste ding wat ek van myself
geleer het. Tog geniet ek geselskap, en mis ek reeds Inge se laggie
wat kort-kort opgeklink het.

Miskien hou ek juis daarom van alleen toer en swerf. 'n Mens raak te
geheg aan mense se geselskap.

Die grootste deel van die sogenaamde "swart" Afrika is nou verby. Soos
verlede jaar het ons net die allergrootste vriendelikheid en
gasvryheid ervaar. Dit het ons siele aangeraak.

Ek is twee keer vir spoed gevang. Elke keer het die hoof my laat gaan
met 'n waarskuwing. Nie een keer het die persoon eers geskimp oor 'n
moontlike geskenkie nie.

Ons is baie gestop deur polisie, meer as wat ek kan onthou. Nie een
keer het een eers in die rigting van omkoopgeld gepraat nie.

Hoe gebeur dit dat mense derduisende Rande aan omkoopgeld oor Afrika
moet betaal? Ek hoor en lees daarvan, kan dit egter nie verstaan nie.

Ons het wild en wyd gekamp, orals geeet, en net vriendelikheid ervaar.

Gister het ek na die rustige inry na Nairobi uitgesien. Niks daarvan
het gerealiseer nie. Die stukkie goeie pad van verlede jaar het
verdwyn. Dit was stof en sand en klip en gate en stof stof stof. Ons
was eers kort voor 5 gister hier nadat ons half 9 uit Arusha, 280 km
suid van hier, vertrek het.

Die geluk was egter ook gister aan ons kant. Ons kon vir die eerste
keer Kilimandjaro sien. Wat 'n gesig om Afrika se hoogste piek bo die
dor en verlate Tanzaniese vlaktes te sien uittroon!

Voel ek nog dat Afrika ons tuiste is?

Duisendmaal ja.

Maar ons het blerrie baie werk voor ons! Daar is nog baie slaggate wat
toegemaak moet word.

Vanaand land Annami in Nairobi, en dan begin weer 'n nuwe venster op ons reis.

Gaan iemand my laat weet of die Bulle gewen het?

Groete!

No comments: