Wednesday, August 6, 2008

Waar is die goeie Suid-Afrikaners?

Goeie more!

In Afrika het ek soveel welwillendheid beleef. Steek my landgenote by daardie samaritane af? Is ons van 'n ander kwaliteit?

By Makro moet ek R 20.50 betaal. Ek het twee R 20 note. Agter my staan 'n onbekende vrou, 'n me. Van den Berg. Sy haal 50c uit en gee dit ongevraag vir my sodat ek nie 'n noot hoef te breek nie. 'n Weldoener wat goed aan 'n vreemdeling doen.

By Faerie Glen hospitaal wil ek vinnig 'n koppie koffie drink. Dit kos R 8 en ek het net R 7.20 by my. Die dame agter die toonbank lag en skink steeds vir my die koffie in. 80c gaan haar nie bankrot maak nie.

Verlede week op die lughawe in die parkeerkelder hoor ek voetstappe agter my. Ek kyk om en sien 'n sakeman in 'n pak klere ('n Indier) aangehardloop kom. In sy hand was my betaalde parkeerkaartjie wat ek laat val het. 'n Weldaad teenoor 'n vreemdeling.

Verlede Saterdag sukkel ek om my motorfiets op die sleepwaentjie te laai vir die byeenkoms in Johannesburg. 'n Swart man kom verby gestap en ek vra of hy kan help. Nadat die fiets vas is, bied ek hom 'n paar Rand aan. Hy lag en wys dit van die hand want ... hy is 'n Christen en het gehelp omdat hy wou help.

Dankie aan die vier mense wat net weer my standpunt bewys het dat daar meer goeie mense is as slegte mense.

Dit word tyd dat ons ons strate en stede terugvat van die klein vrot element wat ons lewens soms hel maak.

No comments: