Thursday, January 22, 2009

Verligting

Verligting…
-  Voet op grond, hotel bereik en die saligheid van 'n bier


Ek het vandoggend opgestaan en ek moes voel-voel na 'n lig soek om my omgewing te bepaal.  Gister kon net sowel 'n droom gewees het.  Grepe van streng gesigte en ondersoekende hande is maar net van die beelde wat  my saam met die lig getref het. 

Die dag het afgeskop waar my vaderlief en kleinsus kwart voor ses in by O.R Tambo Internasionaal afgelaai het.  Kyk, die feit dat ek vieruur die oggend reeds op die snelweg moes wees, het my reeds kriewelrig gehad.  As dit nie vir die vroegoggend Johannesburgse (meer spesifiek die verdagte R21) moontlike verkeer was nie het ek in beslis protes aangeteken.  Dit was egter net genade dat ons die aanslag van sekuriteit betyds aangepak het.

Ek het altyd gespot sekuriteit my sak altyd kies om te verwoes.  Hoogs waarskynlik omdat ek 'n gepakkery nie kan verdra nie.   Maar net 'n melodramatiese spioenasierolprent kon my soort-van voorbery op dit wat sou volg.   My pa het nog gedink hy doen my 'n guns om my te laat Glad Wrap.  Geld in die water.  Soos wat ek en my mede-reisiger op die die toonbank afgesuiker het, het niks ander as hulle gratis toedraaidienste ons verwelkom nie.
 
Ons is gegroet en die dinge het begin.  Die heel eerste ding op die agenda was allerlei vrae - wat ek van 'n oorlogsland verwag het.  Die roetine van honde en plofstofaanduiders het alles sin gemaak.  Al wat ek kon doen was om maar te hoop my koekie seep het nie in 'n chemiese omwenteling ondergaan nie. 

Ek is bitter geimponeer deur die doeltreffende sekuriteitstelsel.  Die feit dat elke passasier aan boord deur so 'n mate van ondersoek onderworpe is, is seker 'n goeie teken.  As hulle soveel moeite doen om elke apparaat vir jou uitmekaar te haal en te herverpak.  Om elke kreukel in jou tas (en jou lyf) te herrangskik (ek het tot my spyt agtergekom dat die kranige sekuriteitsbeamptes nie te graag terugpak nie) verg darem besonder baie moeite.  Met soveel voorafbeiding behoort hulle te sorg dat diegene wat die vlug uiteindelik haal nie na benede tuimel as jy eers bo is nie.

Die vae vermoede dat daar letterlik net drie van ons aan die voorkeurbehandeling is bevestig toe ons uiteindelik die aanloop vliegtuig toe neem.  Sonder selfs ons handbagasie.   Paspoort, beursie en storieboek (wat op aanvraag eers deeglik ondersoek moes word) in die hand, het ek eindelik die vliegtuig bestyg. 

My vermoedens was reg.  Die vlieënier het koers gehou.  Gisteraand, net duskant elf, het ek en Lodie verdwaal tot by ons hotel.  In 'n systraatjie het ons die dag, met 'n halwe liter bier elk, nabetrag.    


No comments: