Thursday, September 4, 2008

My planne vir 2009

Goeie more!

Sondagoggend kwart oor drie het ek met die KLR die pad gevat O R Tambo Lughawe toe vir 'n vroegoggendvlug Durban toe. My gedagtes het teruggegaan na 'n ander oggend baie maande toe ek ook drie-uur begin ry het. Khartoem.

Die Khartoem-oggend was winderig. Daar was baie stof en sand in die lug. Toe die son na 'n paar uur begin opkom, was dit geel-wit en die lug rooi-bruin van die sand.

Verlede Sondagoggend was ook winderig. Daar was nog baie Kalaharistof in die lug na Saterdag se sterk Augustuswinde. So 40 km noord van Pretoria was 'n groot veldbrand. Die oostelike horison was een lang rooi gloed. Die wind het die rook oor die N 1 gewaai. Toe ek op die lughawe stop, het my ryklere na grasvuur gestink.

Wat 'n voorreg om motorfiets in Afrika te kan ry.

Ek is nou besig met 'n paar "bedelbriewe" aan groot maatskappye. Ek wil weer 'n toer aanpak.

Met my terugkeer van Naboom2Germany het die totale negatiewe instelling van so baie Suid-Afrikaners my geskok. Ek was nie meer daaraan gewoond nie. Ek was gevul met 'n positiewe geloof, in mense, oor die toekoms, oor die krag van God se genade.

Is dit nie nodig dat ons in Suid-Afrika die waarde van 'n positiewe uitkyk meer aan die groot klok begin hang nie? Het ons nie 'n beter kans om gelukkiger te word, en meer probleme op te los, as ons ons nie heeltyd teen probleme blind staar nie? Hoe kan ons as sogenoemde gelowiges in ongeloof leef en ons land "vervloek" deur heeltyd te sĂȘ daar is nie meer 'n toekoms nie?

Daarom sou ek graag vlg. jaar my alleenreis van Munchen, Duitsland, voortsit en oor Rusland en Siberie (deelteken) wou ry, deur moeilike terrein, en met elke dag se dagboekberig bewys dat ALLES moontlik is as ons positief dink, leef, doen.

Ek kan net dink: (Borg se naam) Naboom2Vladivostok - die toer wat bewys dat met positiewe gedagtes en energie alles moontlik is!

Dit gaan my toets word, die vind van 'n borg.

Groete!

No comments: